SA Swem Geskiedenis




Puik swem-joernalistiek

24 September 1999
GUSTAV VAN AS


 As voormalige Vrystaat-swemmer is dit vir my aangenaam om Hendrik Cronjé se artikels oor swem in Die Volksblad te lees. Swemmers bestee geweldig baie tyd aan hul sport en dit is goed om te sien dat erkenning aan hulle gegee word.
In die jare sestig het 'n jong sportskrywer van Die Volksblad, Frikkie van Rensburg, feitlik daagliks berigte oor swem in ons koerant gehad. Frikkie het die voorste swemskrywer in Suid-Afrika geword en ek twyfel of nog 'n swemskrywer oor sulke uitstekende statistieke oor swem beskik as juis Frikkie.
 Vandag is Frikkie die sportredakteur van Die Volksblad. Gevolglik kon hy nie meer so baie aandag aan swem gee soos hy sekerlik wou nie.
 Hendrik Cronjé het dieselfde eienskappe as sy voorganger. Hy gee nie net bloot uitslae nie, maar ook onderhoude met die top-swemmers en agtergrondstories oor die sport.
 Waar Frikkie in die Karen Muir- en Ann Fairley-tydperk by swem betrokke was, is Hendrik nou in die Penny Heyns- en Ryk Neethling-era betrokke. My voorspelling is dat Hendrik nog diep spore in die swem-joernalistiek sal trap.


‘SA besef nie wat Muir vir die land beteken het nie'

 
Dinsdag 02 April 2013

FRIKKIE VAN RENSBURG, voormalige sportredakteur van Volksblad wat as sportverslaggewer gereeld oor Karen Muir geskryf het, het gister só hulde aan haar gebring:

In my lewe as joernalis van bykans 50 jaar het ek honderde sportlui ontmoet, oor hulle geskryf en hul goue oomblikke én hartseer gedeel.

Van hulle het met die loop van tyd ’n spesiale plekkie in ’n ou se hart gekry.

Karen Yvette Muir was só ’n besondere mens.

Karen het op ’n keer binne 24 uur op vier wêreldrekords op ’n gala in Kimberley verbeter – ’n ongeëwenaarde prestasie tot nog toe in wêreldswem.

Ondanks haar ongelooflike swemprestasies, het sy ’n baie nederige mens gebly.

Karen se gesin het altyd eerste gekom, selfs toe sy nog as mediese dokter gepraktiseer het.

Sy het nooit, net nooit, oor haar swemprestasies gepraat nie, want dit sou klink of sy daarmee wou spog, het sy altoos gesê.

Sy was ’n reguit mens, ’n ongelooflike diereliefhebber én beskermer. ’n Liefdevolle, lojale, hardwerkende, mededingende, vergewensgesinde én grootmoedige mens.

Suid-Afrikaners het oor die jare skitterend in die swembad gepresteer, soos Joan Harrison, wat in 1952 die goue medalje in die 100-rugslag op die Olimpiese Spele ingepalm het; Jonty Skinner, wat die wêreldrekord in die 100-vryslag gehou het; Penny Heyns, wat op die eeufeesbyeenkoms in 1996 in Atlanta, Amerika, die 100- en 200-borsslag op die Olimpiese Spele ingepalm en die wêreldrekords in dié nommers gehou het; asook die goue medaljes wat Cameron van der Burgh en Chad le Clos op 2012 se Olimpiese Spele in Londen ingeoes het.

Tog beskou ek steeds Karen Muir as Suid-Afrika se grootste swemmer in die geskiedenis!

Suid-Afrika besef nie wat hierdie meisiekind van Kimberley vir ons land in ’n tyd van swaarkry beteken het nie.

G’n geld, goud, of diamante dan, kan dit koop nie!

Karen had vier kinders, drie dogters, Marietjie, Ann-Mari en Karike, en ’n seun, Jan, wat net soos sy ma in Kanada gewoon het.

Dankie, Karen, dat ek jou kon ken, jou vegtershart kon ervaar – tot op die einde.

More in this category: « Tukkies Rhodesian aquatics history »

            NEW CONTENT

UA-55917683-1