Swemmer ‘sonder weerga’

Karen Muir bly hom altyd by, skryf oud-sportredakteur Frikkie van Rensburg


AS ’n Volksblad-nuusredakteur vandag vir ’n verslaggewer en ’n fotograaf opdrag sou gee om Kimberley toe te ry om foto’s te gaan neem en verslag te doen van ’n 12-13-jarige meisietjie se swemoefening, sou só ’n verslaggewer en fotograaf baie maklik kon gedink het dié opdraggewer is sy varkies kwyt! Maar nie wanneer só ’n meisie se naam Karen Yvette Muir is nie, want Karen Muir was Karen Muir, ís Karen Muir! Dán ry jy! Drie sportgebeurtenisse het die grootste invloed in my ontwikkeling as sportjoernalis van bykans 50 jaar gehad: die Springbok-kriekettoer van 1955 in Engeland, die Springbok-rugbytoer in 1956 in Australasië, én die Springbok-swemspan se besoek in 1965 aan Brittanje. Elkeen van hierdie sporttoere het ’n groot rol daarin gespeel dat ek in my joernalistieke loopbaan in die statistieke van dié drie sportsoorte sou delf. Die Springbok-swemtoer van 1965 was dit wel, maar dit was ’n hiperskaam 12-jarige meisietjie, Karen Muir, se prestasie op 10 Augustus 1965 in Blackpool, Engeland, wat net daardie vonkie in my as sportjoernalis, en selwers ’n skole-swemmer op Vryheid, Noord-Natal, ontlont het.

Ann Fairlie

Ann Fairlie was tóé Suid-Afrika se rekordhouer en kampioen in die 110 treë-rugslag. Die leerling van die Laerskool Diamantveld in Kimberley was “nie naastenby” in Fairlie se klas nie. Aangekom in Engeland, is Karen vir die 110 treë-rugslag in die junior afdeling ingeskryf, en Ann Fairlie sou in die senior nommer teen van die wêreld se bestes aantree. Karen se beste tyd in dié nommer was 1:12.2 sek., teenoor die Engelse meisie Linda Ludgrove se splinternuwe wêreldrekord van 1:09.5, wat Ludgrove op 24 Junie 1965 in die einste Blackpool-swembad opgestel het. Karen het in die nommer net voor die senior meisies, onder andere Fairlie en Ludgrove, geswem. Toe die skoot klap, het dié skraal, skaam, sproetgesiggie van Kimberley soos weerlig van die kant van die swembad af weggeskiet. Haar skraal armpies het gewindmeul met pragtige, egalige, ritmiese hale. Met elke haal het sy haar voorsprong op haar Britse junior teenstanders vergroot. Toe sy op 50 meter in ’n tyd van 32.4 sek. draai, was dit duidelik dat sy ’n baie goeie tyd gaan aanteken. Oor die laaste klompie treë het sy die skare toeskouers in vervoering op hul voete geruk. Teen die einde het sy g’n moegheid getoon nie. Ludgrove en Fairlie en die ander senior meisies het van die kant af gesien hoe hierdie jong meisietjie die water op pad na groot roem kloof. Ná die nommer was daar tonele van uitbundige vreugde én afwagting om die swembad. Voordat die aankondiger haar wentyd bekend gemaak het, het Karen in die teenwoordigheid van haar spanbestuurder, Alex Bulley, eenkant haar handdoek staan en knibbel.

Jongste wêreldrekordhouer

’n Oorverdowende applous het losgebars toe Karen se wentyd van 1:08.7 sek. bekend gemaak is – 0.8 sek. vinniger as Ludgrove se wêreldrekord! Op 12 jaar 339 dae het Karen Muir op 10 Augustus 1965 die jongste wêreldrekordhouer in die sportgeskiedenis geword. Verskeie jong sportmanne en –vroue het op 12 jaar wêreldtitels ingepalm, maar nie een het in daardie stadium van hul loopbane ’n wêreldrekord oortref nie. Karen Muir was iemand spesiaals. Iemand met daardie ietsie ekstra. Jy het sommer geweet hier is ’n mens met natuurlike talente. ’n Mens-mens, haar hele lewe. Ek en die twee Volksblad-fotograwe, Cas Dreyer en Lappies Labuschagne, het dikwels afgesit Kimberley toe om ons goue meisie se voorbereiding vir groot galas by te woon. Ek onthou nog dié een keer toe ek en Cas dit “durf waag het” om ná só ’n sessie in ’n restaurant oorkant die stadsaal in Kimberley ietsie te gaan eet, én die ete ons elkeen R1,75 gekos het. Oom Gert Terblanché, wat toe die nuusredakteur was, het ons mooi laat verstaan dat ons nie só rojaal met die maatskappy se geld moes werk nie. Op ’n ander keer was ek en die fotograaf laat vir ’n afspraak by die Karen Muir-swembad in Kimberley. Daar aangekom, het Karen reeds aanstaltes kleedkamer toe gemaak om te gaan verklee. Maar ons kon nie sonder ’n Karen-foto terug Bloemfontein toe nie. Ma Yvonne wou nog keer, maar Karen het ingestem om terug in die swembad vir ons fotosessie te klim.

Nasionale heldin

Hierdie jong Afrikanermeisie het oornag ’n nasionale heldin geword en ná nóg ’n reeks rekords wat in koerante van Tokio tot in Vancouver, en van Hammerfest tot in Auckland aangeprys is, nóg groter roem vir haar vaderland ingeoes.
Karen moes vir internasionale teenstand oor die wêreld heen reis om met die bestes van daardie tyd – Cathy Ferguson, Olimpiese kampioen in 1964, en die twee Olimpiese kampioene van 1968, Kaye Hall (100 m) en Pokey Watson (200 m), asook Linda Ludgrove, Kiki Caron (Frank-ryk) en Elaine Tanner (Kanada) – haar kragte te meet. Én die vroue water in die oë te skop.
Die naaste wat Karen aan ’n Olimpiese Spele gekom het, was in 1968.
Die SA swemkeurders was eerste wat húl span vir die Olimpiese Spele daardie jaar in Mexiko ná die SA swemkampioenskap in Bloemfontein gekies het. Máár ons sportlui se “veiligheid kon nie in Mexiko gewaarborg word nie” en dié span het nooit voet uit die land gesit nie!
Ná ’n kort swemloopbaan van vyf jaar het sy ná die 1969-seisoen uitgetree om haar op haar mediese studie aan die Universiteit van die Vrystaat toe te spits. Sy het daarna op Ladysmith in Noord-Natal gaan praktiseer voordat die gesin in 2000 na Kanada verhuis het.

Rekords, rekords en rekords

In haar loopbaan het Karen 17 keer op ’n bestaande rug- en wisselslagrekord van die wêreld verbeter, sy het 22 SA titels ingepalm en 41 keer ’n bestaande SA rekord oortref. Sy het ook aan twee Amerikaanse kampioenskapsbyeenkomste deelgeneem en telkens die rugslagtitels voor haar teenstanders se neuse weggeraap. Op die SA kampioenskapsbyeenkomste het Karen titels in die 100-, 200-, 400-, 1 500 m-vryslag, 100- en 200 m-vlinderslag, 100- en 200 m-rugslag en die 200- en 400 m-wisselslag ingeoes. Dis net in die borsslag dat sy nooit ’n SA titel gewen het nie.
Oor één van dié SA rekords – die 200-rugslag – het ek in 1977 ’n reuse-stryd met die SA swembase gevoer om dit erken te kry. Karen het op 21 Julie 1968, juis op die Amerikaanse swemkampioenskap, dié nommer in ’n tyd van 2:23.8 gewen. Die Amerikaners en die Internasionale Swemfederasie (Fina) het dit as ’n wêreldrekord erken, maar ons swembase het dit nie as ’n SA rekord gereken nie. Ek het in Volksblad berigte hieroor geskryf en ten einde laaste hét die SA Swemvereniging Karen se rekord ná meer as nege jaar erken! Karen het op ’n keer binne 24 uur op vier wêreldrekords op ’n gala in Kimberley verbeter – ’n ongeëwenaarde prestasie tot nóg toe in wêreldswem.
Karen het vier kinders – drie dogters – Marietjie, Ann-Mari en Karike – én ’n seun, Jan, wat soos sy ma in Kanada woon.

‘Gesin altyd eerste’

Wat het ma Karen se kinders van haar te sê? Jan vertel: “Ondanks my moeder se ongelooflike swemprestasies, het sy ’n baie nederige mens gebly. Haar gesin het altyd eerste gekom, selfs toe sy nog as mediese dokter gepraktiseer het. “My ma het nooit, net nooit, oor haar swemprestasies gepraat nie, want dit sou klink of sy daarmee wou spog, het sy altyd gesê. My ma is ’n reguit mens, ’n hardwerkende mens, ’n ongelooflike diereliefhebber en beskermer. “My ma is ’n liefdevolle, lojale, hardwerkende, mededingende, vergewensgesinde, grootmoedige én ’n koppige ma!” Ann-Mari sê haar ma het onlangs bykans twee maande by haar en haar twee ander sussies, Karike en Marietjie, in die Kaap gekuier. Karen het ook na haar eerste kleinkind, ’n dogtertjie, Jenna, gekyk nadat ma Ann-Mari ná haar kraamverlof terug werk toe is. “Sy het by ons oudste suster, Marietjie, gebly, wat net so 1,2 km van ons huis af is. Dit was so lekker. Ons het daai paar weke elke aand ná werk by die huis gekom en dan was Jenna klaar gebad en skoon aangetrek, aandete was vir ons gereed, en die kaggeltjie het gebrand! “My ma is baie trots en geheg aan haar kleinkind! Sy is gek na haar en los haar nie vir ’n oomblik alleen nie. My ma het vir haar kombersies gebrei en die mooiste kwilte gemaak en haar natuurlik bederf met baie speelgoed en kleertjies. Sy het ook vir Jenna haar eerste swembroekie gegee, wat sy hopelik hierdie somer sal kan gebruik, asook ’n klein opvou-swembadjie. “Jenna is in dié tyd gedoop. My ma het Jenna in die kerk ingedra. ’n Week ná die doop is sus Karike getroud. “My ma, Marietjie en ek is saam met ons drie niggies – Yvette, Christine en Ronalda – op ’n olifantsafari. Wat ’n ongelooflike ervaring was dit nie. “Hoewel my ma eers op Sondag 16 September 60 jaar oud word, het my tannie Leana vir haar ’n verjaardagpartytjie ge-reël voordat sy terug is Kanada toe,” het Ann-Mari gesê. Karen was skaars terug in Vanderhoof, Kanada, waar sy sedert 2000 woon, toe is sy en Jan-hulle na die Queen Charlotte-eilande. ’n Hartaanval het haar egter in die hospitaal laat beland. Suid-Afrikaners het oor die jare skitterend in die swembad gepresteer, soos Joan Harrison, wat in 1952 die goue medalje in die 100-rugslag op die Olimpiese Spele ingepalm het; Jonty Skinner, wat die wêreldrekord in die 100-vryslag gehou het; Penny Heyns, wat op die eeufeesbyeenkoms in 1996 in Atlanta, Amerika, die 100- en 200-borsslag op die Olimpiese Spele ingepalm en die wêreldrekords in dié nommers gehou het; asook die goue medaljes wat Cameron van der Burgh en Claude le Clus op die onlangse Olimpiese Spele in Londen ingeoes het. Tog beskou ek steeds Karen Muir as Suid-Afrika se grootste swemmer in die geskiedenis!

Karen Muir in haar tweede jaar as mediese student aan die Universiteit van die Vrystaat. Dié foto was op die voorblad van Frikkie van Rensburg se eerste SA Swemjaarboek – 1971. Dié jaarboek is op 25 Februarie 1972 in Bloemfontein bekend gestel. Dit was die eerste keer dat ’n jaarboek in SA swem uitgegee is, wat die volle verhaal van SA swem van die vroegste jare bevat het, alle rekords – provinsiaal tot wêreldrekords – en ander insiggewende artikels deur die voorste swemlui van daardie tyd.

Volksblad - 15 September 2012



 

More in this category: « Canada Bulawayo Schools »

            NEW CONTENT

Click on  to turn various layers on/off. Click on  to view larger map. Zoom into each coloured dot.